Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Monday, March 30, 2009

Pleeg selfmoord as jy regtig iets vir die aarde wil doen

Ek is heel skepties oor inisiatiewe soos die Earth Hour van die pas afgelope Saterdag. Iets soos die Earth Hour het blote simboliese waarde, vir 'n hele aantal redes.

Een is dat beligting slegs sowat 10% van alle elektrisiteit in Suid-Afrika verbruik. Veel groter verbruikers soos aluminiumsmelters het nie, sover ek weet, hulle oonde afgeskakel nie. Tweedens is Earth Hour nie iets wat genoeg herhaal kan word om 'n groot impak te kan maak nie. Dis nie realisties om van mense te verwag om elke tweede aand vir 'n uur in die donker te moet sit nie.

Die hele groen-beweging is te politiek-korrek om die ware oplossing vir die aarde se omgewingsprobleme aan die hand te doen. Daar is nie te min elektrisiteit of hulpbronne nie. Daar is wel te veel mense wat te veel hulpbronne opgebruik en in die proses te veel besoedeling skep. Ek het gegrap oor selfmoord in die titel (moet nou asseblief tog net nie gaan slaappille drink agv my voorstel nie), maar daar is nietemin groepe wat dit ernstig as 'n alternatief voorhou.

Die ware oplossing vir besoedeling en omgewingsprobleme is 'n einde van die oorbevolking  van die spesie Homo Sapiens dmv radikale geboortebeperking, veral in die Derde Wêreld (die ontwikkelde wêreld se geboortekoers is, uitgesonderd immigrasie, alreeds negatief.)

China het die weg gebaan hiermee met sy een kind per gesin beleid. Die een gróót guns wat jy die aarde kan doen, is om nie voort te plant nie, of, as jy moet, slegs een kind te hê. Elke Amerikaner produseer byvoorbeeld sowat 24 ton koolstofdioksied per jaar, oftewel sowat 170 ton CO2 oor sy leeftyd. 'n Amerikaner vereis ook 9.4 hektaar se landbougrond om sy vetsug in stand te hou. Dink net hoe bly sal Moeder Aarde wees as jy verantwoordelik optree.
 
Die heel, heel beste ding wat jy dus kan doen om die aarde te red, is om voorbehoedmiddels pligsgetrou te gebruik, en om ander mense ook aan te moedig om nie soos hase aan te teel nie.
 

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator