Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, March 24, 2009

Is die Taliban die VF+ se probleem?

'n Persoon het vandag 'n brief aan die Praag-poslys deurgestuur wat die punt hiernaas gemaak het. Dit was met verwysing na die komende verkiesing, 'n volkstaat en die VF+ se aanspraak op dié party se sterk Christelike karakter.

"Al my vriende is Afrikaners, en sommige van hulle is Christene. Nie een van hulle ondersteun 'n volkstaat nie. Waarom nie? Omdat hulle almal (insluitende die Christene) bang is so 'n staat word maar net nog 'n agterlike Iran-tipe teokrasie wat met 'n ysterhand deur 'n klomp kwaai omies met Bybels en karwatse regeer word."

Ek het soortgelyke sienings as die een hierbo al heelwat kere aangehoor. Ek moet bieg dat Afrikaner-organisasies aan die meer konserwatiewe kant van die spektrum onsself dikwels oopmaak vir daardie soort kritiek.

Só byvoorbeeld skryf Louis van der Schyff van die HNP die volgende in 'n brief aan Beeld: "Die Grondwet is 'n nie-Christelike Grondwet, erken nie die oppergesag van die Drie-enige God nie, is 'n oorlogsverklaring teen die wit mense van Suid-Afrika, dit vereer terroriste ("diegene wat gely het vir geregtigheid en vryheid"), erken die ongeregtighede van die verlede (met ander woorde val apartheid aan), die wit mense word as misdadigers uitgekryt en diskriminasie teen wit mense word goedgekeur – dit alles in die Grondwet."

Ek is dit met hom eens oor baie van die bostaande, maar let weer eens op dít wat heel vooraan staan: 'n klagte dat die Grondwet nie-Christelik van aard is. Volg dit dus dat 'n Grondwet wat wel Christelike beginsels eerbiedig, die ander probleme ook sal aanspreek, bloot omdat dit Christelik van aard is?

Wie se soort Christenskap, moet mens dan noodwendig vra? Die APK s'n maar nie die NGK of, les bes, die ZCC s'n nie? Wat van Jacob Zuma (glo "the black Jesus") se aanhangers se soort Christenskap en waardes – sou die HNP dáárvoor te vinde wees, as dit in die Grondwet sou voorkom?

Ek gun en respekteer mense se persoonlike geloofsoortuigings, maar ek kan wel goed verstaan waarom die briefskrywer hier heel bo aangehaal, sou dink dat die meeste regse bewegings en partye 'n Afrikaner-Taliban in gedagte het. Moontlik dink hulle die VF+ wil soos ons ma's wees in die ou dae, wat ons teen wil en dank Sondagskool toe maak gaan het.

Te oordeel aan die VF+ en HNP se sienings, uitsprake en verkiesingsplakkate, sou dit vergesog wees vir sommiges om te dink dat hulle beplan om te sorg dat die winkels toe, die TV af en die kerkdeure oop is op 'n Sondag? Wil hulle weer die sensorskap van ouds in die lewe roep en ons probeer keer om Triomf, Moltrein of die Freedom Charter te lees? (Of dan seker ook sommiges se gunsteling genre, die Loslyf.)

Afrikaners is, soos bykans alle Europeërs, egter besig om toenemend afvallig te raak van hulle geloof. Die meeste Afrikaners stem maar by verstek vir die DA, al steun die DA Pretoria se herbenoeming na Aapstad, en al is die DA ten gunste van regstellende aksie en transformasie.

Die VF+ is tans die enigste party wie se beleidsrigtings regstreeks spreek tot Afrikaners (en blanke Engelse) se belange, in teenstelling met die Engelswordende DA se liberale en toenemende reënboognasie-wollerigheid.

Ek wonder dus saam met die skrywer van die brief heel bo: Is veral die VF+ besig om hom blind te staar teen Christenskap, en mis hy sodoende 'n geleentheid om veel groter steun onder blanke kiesers te verkry? Sy ander beleidsrigtings verdien sekerlik meer steun as slegs 9% van alle blankes.

Kan die gebrek aan steun vir die regse partye spruit uit ander Afrikaners se vrese vir 'n herhaling van die Afrikaner-Taliban wat ons kleintyd geterroriseer het?

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator