Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Sunday, March 15, 2009

Die poniefikasie van die Afrikaanse pers

Gister pryk hierdie "nuusberig" prominent op die voorblad van Rapport se webtuiste. Daar word gespekuleer, en, laat ons goed verstaan, dis pure klip-in-die-bos spekulasie van die mees riooljoernalistieke aard, dat Charmaine Gale, die hoogspringatleet, Joost se skelmpie sou wees. Me Gale is genader vir kommentaar maar het nie die gewenste reaksie verskaf nie. En dis "nuus" vir welke rede, Rapport?

Iemand kon net sowel 'n berig gepubliseer het oor hoe Gavin Prins glo in die bed betrap sou wees met, sê, Yolanda Barnard. Dit sal presies net so nuuswaardig en goeie ondersoekende joernalistiek gewees het as die spekulasie oor me Gale, want dit sou eweneens 'n pure dog onwaarskynlike raaiskoot gewees het.

Die Sondag, wat kennelik uit en uit 'n poniekoerant is, anders as Rapport, se lewensgrootte voorbladberig is ook een oor huismoles. Diegene wat deelgeneem het aan die huismoles, is egter "nobodies." Ek had voor die tyd hoegenaamd geen idee wie Natalie Becker, een van die rolspelers was nie, en nádat ek die berig gelees het, stel ek nog minder belang in haar doen en late. Die dokter wat sy glo aangerand het, is eweneens nie iemand met enige noemenswaardige openbare profiel of "claim to fame" nie. Dis asof Piet Pompies van Pampoenfontein en sy vrou stry en dit haal die nasionale voorblad.

Gaan Suid-Afrika werklik so mank aan "celebrities" dat dié spesifieke betrokkenes 'n voorbladberig regverdig?

Dit lyk tog of die fokus in die Afrikaanse pers toenemend verskuif word na 'n stelselmatige verdomming van dít wat deurgaan vir nuus. Esmare Weideman se dagvaarding van Steve is daarom niks meer of minder as die mees siniese sensasiesoekery denkbaar nie, die doelbewuste holrugryery van 'n gebeurtenis wat Me Weideman sonder twyfel baie tydskrifte laat verkoop het, en vir die soort joernalistiek wat sy bedryf inderdaad manna uit die hemel was.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator