Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, March 24, 2009

Is die taxibestuurders te blameer?

Taxibestuurders is nie juis die gewildste landsburgers op die oomblik nie, veral nie ná vandag se kaskenades in Johannesburg en Sandton nie.

Die ou cliché lui egter dat daar g'n so 'n ding is soos 'n slegte kind nie – daar is bloot slegte ouers. My mening is dat presies dieselfde geld mbt taxibestuurders. Taxibestuurders is myns insiens blote kinders, wat die slegte voorbeeld van hul ouers (miskien is die Engelse "elders" meer akkuraat in die konteks) navolg.

Ons almal, ek inkluis, vererg ons weliswaar daagliks vir die wettelose taxibestuurders. Ek het 'n broertjie dood daaraan as ek in die verkeer moet vassit, maar Sipho die taxibestuurder beskou homself as bo die gereg verhewe, en Sipho skiet verby my in die noodlaan.

Die vraag is egter: wie se faling is dit? Wie moet blameer word as Sipho geen ontsag vir die reëls koester nie? Is dit uitsluitlik die skuld van taxibestuurder self?

Ek glo nie. Ja; daar is 'n element van minagting vir gesag in taxibestuurders se eie geledere, maar ek dink dis veral 'n mislukking in hulle leierskap, en veral 'n faling in leierskap vanuit die swart gemeenskap.

Die provinsie met die laagste moord- en verkragtingsyfer is Limpopo. Dis ook die naas-armste provinsie. (Daar gaat die mite van armoede wat glo misdaad veroorsaak, terloops.)

Limpopo is egter juis dié provinsie met die sterkste tradisionele leierskap. Toe ek in die weermag was, het ons met die kgosi, die hoofmanne, gaan onderhandel om hulle rammetjie-uitnek jong mans in die bek te ruk, iets wat baie effektief gewerk het. Daar was kennelik jong bokke wat 'n paar houe lyfstraf moes deurmaak, maar dit was terapeuties in baie gevalle. Daar was en is steeds grotendeels orde binne tradisionele gemeenskappe in die Noord-Transvaal.

Daardie model van respek vir ouer mense het egter totaal gedisintegreer in stedelike gebiede. In 'n plakkerskamp gaan dit soos 'n wafferse aksepbank op Wallstraat: elke man vir homself en die duiwel vir die res. (Die groep wat ek tans meer minag as taxibestuurders, is daai bankiers wat kranksinnige risiko's geneem het met ons almal se geld...)
Al wat taxibestuurders doen, is om die gebrek in swart leierskap tot hulle voordeel te misbruik. Presies nes 'n bankier wat die vakuum aan regulasie oor verskansingsfondse tot eie voordeel misbruik het. Hulle optrede spreek bloot van opportunisme in 'n leierskapsvakuum.


'n Groot deel van die blaam vir taxibestuurders se anargistiese gedrag berus myns insiens by hulle eie leierskap (die taxiverenigings) se tekortkominge, tweedens by die wetstoepassers, maar derdens veral by die voorbeeld wat veral swart politieke leiers aan hulle stel.

Eerstens is die groot meerderheid eienaars van taxi's sinies en geldgierig. Die eienaars van taxi's (en ek dink veral hier aan Chinese eienaars) dwing die bestuurders om onrealistiese teikens na te jaag; om onrealistiese aantalle passasiers daagliks te probeer vervoer.

Tweedens is daar geen politieke wil aan die kant van die wetstoepassers om taxi's, of inderdaad selfs gewone misdaad, in die bek te ruk nie. Die getransformeerde polisiemag se doelwit is dikwels selfverryking, en wetstoepassing suig aan die agterspeen. Die bevelvoerder van die Wesrandse georganiseerde misdaadtak is byvoorbeeld tans in hegtenis, omdat hy en sy kapteins gekonfiskeerde dwelms aan misdaadbendes verkoop het.

Dis egter die swart leierskap in die hoogste echelons van die Suid-Afrikaanse samelewing wat volledig daarin misluk om 'n goeie voorbeeld te stel. As die volgende president 'n korrupte veelwywer gaan wees, as die nommer 5 op die ANC se lys van nasionale kandidate 'n veroordeelde ontvoerder en bedrieër is, hoe kan enige leier binne die ANC opstaan en die taxigeweld wat vandag plaasgevind het, met enige geloofwaardigheid veroordeel?

Watter morele gesag het die minister van vervoer, Jeff Radebe, dus om enige oordeel oor 'n taxibestuurder te fel, as sy eie party so fundamenteel korrup en misdadig is?

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator