Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Thursday, April 3, 2008

Waarom vry Zuma na Afrikaners?

Afrikaners is veral in demografiese terme nie die belangrikste groepering in Suid-Afrika nie. Uit 'n totale bevolking van - wie weet met al die onwettige immigrante? - 50 miljoen plus, is slegs een uit elke twintig mense in die land 'n Afrikaner. Al sou alle Afrikaners wonderbaarlik skielik 'n samehorigheidsgevoel ontwikkel, en eendragtig vir een politieke party stem, sou daardie party steeds minder as 10% van al die stemme in die land kry.

 

Daar is veel belangriker groepe as die Afrikaner. Zuma se eie Zoeloes is sowat 4 maal so talryk as die Afrikaners, en so ook is die Xhosas. Uit 'n verkiesingsoogpunt gesien sal Zuma baie meer produktief kon wees deur, sê, die IVP-aanhangers of ontnugterde Xhosas in die Ooskaap te bearbei – hulle wat moontlik vir Cope sou stem.

 

Tog gaan hy uit sy pad uit om juis Afrikaners te teiken, soos gister tydens 'n gesprek in Sandton geblyk het. Ek het dit ongelukkig gemis agv werksverpligtinge alhoewel Dan daar was, maar dit sou interessant wees om dit wel by te gewoon het. Dat Zuma en die teenwoordiges aanklank by mekaar gevind het, is egter nie te betwyfel nie.

 

Ek wonder tog wat agter hierdie vryery sit. 'n Slim (of slinkse) politikus, iets wat Zuma beslis is, doen niks om dowe neute nie. Dit kan logieserwys nie oor getalle in die verkiesing gaan nie - daar is te min Afrikaners. Hier is nietemin my "conspiracy theory" oor die aangeleentheid.

 

Die ganse Mandela- en Mbeki-eras is gekenmerk deur sterk Engelse invloede. Mbeki is in Engeland opgelei en Mandela in 'n Engelse sendingskool opgevoed. Veral Engelse sakelui was instrumenteel in die toepassing van beleidsrigtings soos SEB en regstellende aksie. SEB sou eenvoudig nie werk as veral Engelse sakelui nie entoesiasties daaraan meegemaak het om hul mede-blankes uit te verkoop nie. Daar was gróót Engelse (asook Joodse – dink Kebble, Slovo, Kasrils en Erwin) ideologiese invloede op die Mbeki-bewind.

 

Die paleisrewolusie van Desember 2007 in Polokwane het egter die Engelse sake-establishment asook links-liberale pers tot in sy fondamente geskud. Die Engels-liberale media, onder andere die Mail & Guardian en Business Day, maak tans geen geheim van hulle minagting vir Zuma nie. Daar is niks wat die IOL se Zapiro se besnyde voorvel nog meer maak terugkrimp as die gedagte 'n president Zuma nie.

 

 

Die resultaat van die paleisrewolusie was Cope, in wese die Xhosa-lite faksie van die ANC, en tans die skattebol van die Engelse media (insluitend, verbasend genoeg, die SABC) en Engelse sakemanne. Cope is 'n tipe klub van ontnugterde voormalige SEB-begunstigdes. Cope se rasieleiers is uit en uit Engelse sakemanne en die Engelse pers. 

Ook Antie Helen se toenemend Engels-links-liberale DA is eweneens voor in die koor met hulle aanvalle op Zuma.

 

Die Afrikaanse pers, daarenteen, se veroordeling van Zuma was effens minder striemend as die Engelse s'n. Solidariteit praat al lankal met Zuma. Daar was 'n braai met Zuma en Afrikanerleiers teenwoordig. Mbeki, die koue, Engelse akademikus, sal hom nóóit met semels soos 'n spul Japies om 'n kampvuur wou vereenselwig nie.  

 

Ek glo nie Zuma verkeer onder enige illusie dat Afrikaners skielik vir hom of die ANC gaan stem nie, maar tog oefen Afrikaners 'n veel groter invloed as wat ons getalle sou suggereer op die samelewing uit. Daar is Afrikaanse weergawes van die IOL-groep. Daar is groot voormalige Afrikanerbesighede soos Sanlam en Absa. Daar is Afrikaners wat verstaan hoe om die staatsdiens te maak werk.

 

Ook is daar die moontlikheid dat dit die DA erg kan ontwrig as die Afrikaners begin om Helen Zille as nie net Zuma se vyand nie, maar ook ons s'n te sien. Daardie persepsie is terloops 'n baie realistiese een, met of sonder Zuma – die DA in Gauteng het onlangs van baie van die Afrikaners in hul leierskorps ontslae geraak, en is toenemend besig om in 'n multi-kulti Kaapse party, veral vir Engelse, liberale blankes en Naspers se sg Afrikaanses, te ontaard.

 

Ek kan die voordele van vriendskap tussen Zuma en Afrikaners vir die ANC begryp, maar die ope vraag is natuurlik wat is die teenprestasie wat daar van ons verwag word?

 

Dis egter duidelik dat daar 'n herskikking besig is om plaas te vind binne die Suid-Afrikaanse politiek, en moontlik een wat gefundeer is op die beginsel dat my vyand se vyand soms my vriend kan wees.

free counters Afrigator