Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Sunday, February 8, 2009

Is 'n 1% daling in rentekoerse genoeg?

Donderdagmiddag sal ons weet of die Reserwebank sy uitleenkoers met 0.5%, 1% of selfs, soos party ekonome hoop, met 1.5% gaan sny.


Is dit ‘n geval van te min, te laat? Is 1% genoeg?


Die aanvanklike gedagte agter hoë rentekoerse was om inflasie te bedwing. Inflasie ontstaan oa wanneer mense goedere koop met geld wat hulle nog nie verdien het nie en geleen het. Pryse styg want mense het te veel geleende geld en verkopers kan die hoë vraag na goedere uitbuit.

Maak egter nie saak hoe uitbundig die publiek aangaan en skuld maak nie, gaan daar ‘n punt kom in SA en Westerse lande waar die skuldlas eenvoudig so hoog is dat die gemiddelde man op straat bykans sy ganse salaris aan skuldterugbetalings spandeer en dan noodgedwonge moet ophou om goedere aan te koop. (Die Oosterlinge daarenteen is baie meer spaarsamig as ons, maar iemand moet daai cheap gemors koop wat die Chinese maak, so China gaan ook swaarkry.)

Op die stadium waar die skuldlas te hoog is, gaan die vraag en moontlik die prys van goedere moet begin afneem, want daar is eenvoudig nie meer genoeg kopers nie. Huispryse het in 2008 in reële terme gedaal. Al die verbruikers se geld gaan aan skuldbetalings. ‘n Hoë rentekoers maak hierdie punt bloot gouer aanbreek as wat die geval sou wees onder ‘n lae rentekoers. As die rentekoers 5% was ipv 15% sou dit langer geneem het, maar die mense se skuldlas sou ook daar gekom het. In Brittanje was die rentekoers baie laer as in SA, maar hulle skuldvlakke teenoor inkomste is ook baie hoog.


Suid-Afrika is egter reeds daar waar Jan Alleman te veel skuld het en te min inkomste. Motorverkope het in Januarie met 35% afgeneem vergeleke met laasjaar. Dit het gebeur terwyl rentekoerse besig is om te daal. Die 0.5% rentekoersdaling in Desember het dus absoluut niks gehelp nie.


Sodra hierdie punt bereik is, is inflasieteikening soos deur die Reserwebank toegepas, van nul en gener waarde nie. Inflasie sal in ieder geval uit die stelsel uit verdwyn omdat mense 80%, 100% of 110% van hulle inkomste aan skuld moet betaal. Hulle gaan nie meer Mercedesse koop nie, en dus kan Mercedes dit nie eens logieserwys oorweeg om pryse op te stoot nie, alhoewel sommige maatskappye dit wel sal probeer tot hulle eie nadeel.


Die dilemma wat Suid-Afrika tans mee sit, is dat die skuldlas so hoog is dat inflasie nie meer ‘n faktor is nie. Dit help nie meer om rentekoerse hoog te hou nie, want die aanvraag vir goedere gaan in elk geval in duie stort. Die bekommernis oor die tekort op die lopende rekening (die verskil tussen invoere en uitvoere) en die verswakking van die rand, kan ook mettertyd wegval, want mense sal nie meer geld kan spandeer aan Koreaanse TV-stelle nie, want hulle het dit nie meer nie.


Wat die hoë rentekoerse nou doen, is om verbruikers te laat wurg met skuldbetalings, besighede te laat swaarkry omdat verbruikers noustrop trek, dit besighede mense maak afdank, en afgedankte gebruikers nog meer te laat wurg. Dit word ‘n spiraal van ellende. Die motorbedryf het reeds iets soos 15,000 mense ontslaan. Daai 15,000 mense kan nou nie meer by Woolworths gaan "shop" nie.


Die SARB behoort myns insiens in te sien dat inflasie nie meer die probleem is nie, maar dat ons eerder selfs na deflasie kan beweeg, waar mense ophou om goedere te koop want hulle verwag dat pryse sal val as hulle lank genoeg wag, wat rampspoedige gevolge sal hê. As jou werkgewer elke maand minder vir sy goedere gaan kry, gaan hy jou salaris moet verminder, wat pryse nog verder sal laat daal omdat jy nie meer geld in jou sak het nie. Dis een ding wat in ‘n depressie kan gebeur.


Een persentasiepunt Donderdag is te min. Die SARB sal moet ingryp en kyk na iets soos ‘n dramatiese en onmiddelike 3% sny, en later miskien nog 1% op elke vergadering.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator