Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, June 2, 2009

Selfsugtige blanke ketter!

Arme Unathi Dyantyi. Sy menseregte is geskend. Sy waardigheid is aangetas. Sy manlikheid is in twyfel getrek. Hy is naamlik die slagoffer van erge rassisme. Bes moontlik is hy 'n toekomstige kandidaat vir die Muur van Herinnering by Pretoria se Vryheidspark as 'n held van die voortgesette struggle teen rassisme en apartheid.
 
Wie was die fascis wat hierdie skokmisdaad teen Dyantyi gepleeg het, wil julle seker almal weet? Wat het hierdie aartsrassis aan mnr Dyantyi gedoen, vra julle? Die oortreder is die 22-jarige Carolyn Forword, 'n aktrise voormalig verbonde aan die Riverside Theatre Company van Kaapstad. Die volgende stuk is nie vir sensitiewe lesers nie, en julle lees dit op eie risiko omdat dit so skokkend is. Me Forword het geweier om mnr Dyantyi tydens 'n opvoering, op aandrang van die regisseur, oopmond te soen vir 20 sekondes per opvoering, omdat sy gemeen het dis onhigiënies en onvanpas gegewe die teikengehoor van Graad 3'tjies.

Me Forword het hierdie walglike daad van rassisme gepleeg tydens die opvoering van 'n stuk wat ten doel het om die evangelie van nie-rassigheid aan skoolkinders so jonk soos 8 te verkondig. Julle ken dit mos, daai evangelie. "Gaan dan heen, transformeer al die blankes, en doop hulle in die naam van Diversiteit, Politieke Korrektheid en Nie-Rassigheid."

Ja, ja, ek weet, vrouens het die reg om nee te sê, veral waar dit by die aanraking van hulle liggame kom. Geen reg is egter absoluut nie, veral nie waar dit met die religie van nie-rassigheid bots nie. Me Forword was kennelik ongemaklik daarmee om mnr Dyantyi oopmond te moet soen, ten aanskoue van jong skoolkindertjies, maar sy het in die proses en agv haar opperste blanke selfsug die belangrikheid van transformasie uit die oog verloor, en versuim om haar liggaamlike voorkeure ondergeskik aan die heiligste van die heiliges, nie-rassigheid, te stel.

Want sien, alles, en ek bedoel álles, is ondergeskik aan die groot god diversiteit en die proses van transformasie. Ook vrouens se reg om oor hulle eie liggaam te beskik, ja, selfs dit. As me Forword bloot geweier het om 'n blanke akteur te soen, en soos Vivien Leigh tydens die verfilming van Gone with the Wind gekla het dat Clark Gable se asem stink, was alles egter in orde, want beide Gable en Leigh was wit en dus laag op die voedselketting.

Me Forword se kettery, haar aartssonde teen die religie van nie-rassigheid, was gesetel in die feit dat haar slagoffer, mnr Dyatyi, 'n swarte was, en sy 'n blote witte. Dis asof 'n onaantasbare in Indië 'n magtige Brahman-priester te na gekom het.

Soos die regisseur, Leslie Ehrhardt, dit stel: "It's a horrible situation. It undermines what people did here in the 60s, 70s and 80s in using theatre to challenge apartheid. Racism isn't significant in South African theatre and we shouldn't be talking about it." Inderdaad. Haar misdaad, haar rassisme was so afstootlik, sulke kettery, dat dit taboe hoort te wees om eens daaroor te praat.

Ek voel Ehrhardt se pyn saam met hom. Dat 'n blanke vrou so selfsugtig kan wees met haar eie liggaam, dat sy in haar opperste rassisme durf nee sê, gaan waarlik die verstand te bowe.


No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator