Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Friday, June 26, 2009

Die laagste gemene deler

Blou Makou, 'n skrywer op Litnet, het heel moontlik 'n punt beet met sy teorie rondom die laagste gemene deler, veral waar dit by die religie van transformasie kom.
 
Eerstens: ons het in ons vierdejaar as 'n klas 'n rampspoedige Hidroulika 401 semestertoets geskryf. Behalwe vir die geniale Anton Kleywegt, wat vir die grap mediese studente se toetse saam met hulle gaan skryf het en beter as bykans almal gedoen het, was die gemiddelde punt hier by die 30%. Professor Rooseboom het ons glimlaggend ingelig dat hy nie die vak makliker sou maak en sodoende sou daal na ons vlak toe nie, maar dat hy ons sou ophef na sy vlak toe. (Hy was nie heeltemal suksesvol met almal van ons nie...)
 
Dis moontlik dat daar diegene in die post-1994 euforie was wat regtig gedink het dit was moontlik om Suid-Afrika in die enigste suksesvolle Afrikaland onder swart beheer te verander, of dan ten minste om die vroeëre suksesse wat die land behaal het, voort te sit.
 
Vandag is daar seker nie baie van 1994 se optimisme oor nie. Alles, vanaf kopdinge (onderwys) regdeur die ander kant uit (riolering) is besig om in duie te stort juis agv transformasie. Daar word dus in 2009 nie meer getransformeer op 'n idealistiese wyse nie, maar eerder vir twee ander redes.
 
Die eerste is om te skep terwyl dit nog pap reën, terwyl die momentum deur die vorige bedeling nog sorg vir geleenthede om die ekonomie te plunder.
 
Die tweede rede is pure hatigheid of vernielsugtigheid, oftewel Blou Makou se LGD. Die Mpumalangase Onderwysdepartement se woordvoerder maak byvoorbeeld onlangs 'n absurde stelling wat daarop neerkom dat dit nie aanvaarbaar is dat die Hoërskool Ermelo 'n 100% matriekslaagsyfer het omdat hy moedertaalonderrig in Afrikaans verskaf nie.
 
Nee, die skool moet getransformeer word sodat hy eerstens nie meer Afrikaanstalige moedertaalonderrig verskaf nie, wat vermoedelik ook sal lei tot 'n slaagsyfer van minder as 100%. Siende dat transformasie nou nie die gewenste uitwerking gehad het nie, is die Mpumalangase Onderwysdepartement iets soos prof Rooseboom in trurat: hulle kon nie na die Hoërskool Ermelo se vlak styg nie, en dus wil hulle nou die skool se suksesvolle matriekleerlinge afruk na hulle lae vlak toe.
 

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator