Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, June 23, 2009

Afrika se vreemde gebrek aan sokker-sukses

Toe ons kleintyd op my ouma se plaas naby Brandfort gekuier het, was daar
epiese sportwedstryde tussen ek en my nefies aan die een kant en die
plaasarbeiders se kindertjies aan die ander. Dit het gewoonlik met sokker
begin, maar dit was eensydige wedstryde. Die plaasarbeiders se kinders was
in 'n ander liga as ons. Ons het dan die bal opgetel en begin hardloop om
die spel in rugby te verander, sodat ons ook 'n kans kon hê.

Die Engelse skole in ons omgewing het weliswaar ook sokker gespeel, maar die
feit dat sokker meer gewild is onder swartmense as onder veral ons
Afrikaners, was iets wat niemand betwyfel het nie. Dis steeds so. Ek sit in
'n vergadering anderdag en die voorsitter vertel opgewonde hoe hy kaartjies
bekom het vir die Konfederasiebeker wedstryd tussen Italië en Brasilië. Die
enkele mhlungu's soos ek het kennelik nie heeltemal in sy entoesiasme gedeel
nie.

Sokker is loshande die mees gewilde sportsoort wêreldwyd. Dis ook so in
Afrika. Die groot meerderheid mense in Suid-Afrika sou eerder 'n Chiefs -
Pirates eindstryd wou gaan kyk as 'n Bulle-Haaie eindstryd.

Tog wonder ek waarom Afrika se spanne so swak presteer in die Wêreldbeker.
Nog net twee kontinente se spanne kon al ooit die Sokkerwêreldbeker wen:
Suid-Amerika en Europa s'n. Brasilië is loshande die mees suksesvolle land,
met vyf kampioenskappe agter sy naam. Die beste wat enige Afrikaland ooit
kon doen, was vir Kameroen om die kwarteindstryd te haal. Dis vir my vreemd,
gegewe hoe gewild sokker op hierdie kontinent is.

Kan dit 'n gebrek aan geld wees? Ek glo nie. Brasilië is heelwat armer as
lande soos Duitsland of Italië. G'n Brasiliaanse klub is in geldterme die
gelyke van Real Madrid wat onlangs sowat R100 miljoen vir 'n speler betaal
het nie.  Spelers soos die hamster "lookalike" Ronaldo word ook deur
Europese klubs afgerokkel, nes die geval is met Afrika se spelers. Wanneer
Ronaldo egter vir sy land uitdraf, pas hy sy Europese lesse daar toe.
Bafana-Bafana spelers soos Benni McCarthy, aan die ander kant, dink
verskonings uit om nie vir die nasionale span te speel nie. Argentinië, wat
destyds deur 'n geweldige ekonomiese krisis gegaan het, was in 1990 in die
eindstryd. Dit lyk dus nie of geld die enigste faktor in suksesvolle sokker
is nie.

Ook staan Afrikane se atletiese vermoëns bo verdenking. Sedert 1980 was daar
nie eens een blanke wat die 100m finaal in die Olimpiese Spele kon bereik
nie. Nie één nie - almal wat vir die afgelope 30 jaar die Olimpiese Spele se
100m kon wen, almal wat selfs in die finale was, was van 'n Afrika-herkoms.
Brasilië se bevolking het juis 'n beduidende persentasie Afrika-voorsate.
Afrika het sowat tien keer die bevolking van Brasilië, wat beteken dat die
poel van talent veel groter is as oorkant die Atlantiese oseaan.

Ten spyte hiervan is Mzansi se plaaslike sokkerspan 'n totale verleentheid,
gegewe dat Suid-Afrika die rykste land op die kontinent is. Afrika se ander
spanne sal voorspelbaar weer eens nie 'n faktor wees in 2010 nie.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator