Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, June 16, 2009

Die 16de Junie moet eerder 'n dag van rou wees

Kyk, apartheid en die sogenaamde nalatenskap van kolonialisme (julle weet – die geskrewe woord, menseregte, antibiotika, wet en orde, die wiel, demokrasie en al daai diverse euwels wat die wrede witman op die naturelle afgedwing het) word deesdae vir baie dinge blameer.

Kry die kat kleintjies? Apartheid. Skoolkind swanger met sewe vyftigjarige mans as kandidate vir vaderskap en die skoolkind onseker wie's die pa? Kolonialisme se skuld.

Een ding wat daai hedendaagse muishonde, die ou, blankie omies in hulle Homburg-hoedens, wel reg gedoen het in die ou bedeling was om te verstaan dat die jeug se opvoeding en opleiding hulle volk se héél belangrikste belegging vir die toekoms was. Dit was hulle eerste prioriteit, selfs in die aangesig van die Totale Aanslag.

As 'n jong laaitie van 16 was die jongeheer Anton B reeds geregistreer as 'n dienspligtige, deur ou Kierietjies, die wiskunde-onderwyser. Gelukkig het oom BJ Vorster en later oom PW verstaan dat rekruut 80422074BT 'n groter rol kon speel in die toekoms mét 'n matriek en 'n universiteitsgraad agter die blad as daarsonder. Hulle kon hom weliswaar gedwing het om direk ná matriek weermag toe te gaan, maar hulle was Goddank geduldig.

Dit word toekomsvisie genoem, iets wat nie juis 'n gewilde denkrigting in Afrika is nie. In Afrika leef ons vir die hede. Afrika se styl is kitsgratifikasie en basta met die toekoms. Het diegene wat reken dat omgewingsfaktore soos volop kos heeljaar teenoor duidelik-afgebakende seisoene en die gevolglike noodsaaklikheid vir beplanning wel 'n rol in die ewolusie van intelligensie gespeel het, tog 'n punt beet?

Die aanstigters van die 1976-onluste in Soweto se slagspreuk was: "Liberation before education". Dis 'n slagspreuk wat vandag nog by bykans alle swart skoolleerlinge spook. Een generasie, die klas van '76 se gekheid, belemmer swartes se vooruitsigte vandag nog, dertig plus jaar later.

As jou ma en pa nie deel was van die generasie wat nie verstaan dat dit belangrik is dat jy Cartesiese koördinate kan kleinkry in graad 10 nie, gaan hulle jou nie kan help as jy sukkel met y=mx+c wanneer jy 15 is nie. Jy gaan gevolglik kwotas en regstellende aksie benodig eendag wanneer jy as swarte met 'n blanke CA, dokter of ingenieur wil meeding, want laasgenoemde verstaan wel waarom Descartes so 'n belangrike outjie was, anders as jy.

Die vonk in Soweto se 1976-kruitvat was die aanleer van 'n Wes-Germaanse taal, Afrikaans, een met 'n liggaam van gevorderde letterkunde en musiek, asook 'n tradisie van akademiese gebruik, maar helaas opgesaal met die baggasie van apartheid. Afrikaans is egter nie vervang met iets van soortgelyke waarde nie. Die plaasvervanger was eerder klipgooiery, brandstigting en anargie.

Sestien Junie moet myns insiens dus 'n dag van rou en introspeksie in die swart gemeenskap wees, want die skade wat dit daardie gemeenskap aangedoen het, sal nie in my leeftyd herstel kan word nie.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator