Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Thursday, June 25, 2009

'n (On)verbasende gebrek aan patriotisme

Hierdie skrywe van dr Pieter Mulder het opnuut die indruk van 'n gebrek aan enige nasie in Mzansi by my versterk.

Ene Kaaskop, in 'n brief aan Litnet, vra 'n baie pertinente vraag: as daar 'n militêre aanslag teen Mzansi sou wees, sou die meeste blankes toelaat dat hul seuns opgeroep word om Mzansi te verdedig? Ek sal beslis nie. Inteendeel; ek sal dit oorweeg om my dienste aan die invallers beskikbaar te stel, want dis toenemend duidelik dat die ANC bewind die Afrikaner se vyand is.

Pieter Mulder noem dat daar 10,000 Chinese vrywilligers was wat  sonder vergoeding by die Olimpiese Spele in Beijing gewerk het. By die Konfederasiebeker-wedstryd tussen Italië en die VSA anderdag, daarenteen, het die sekerheidspersoneel gestaak vir meer geld. In Mzansi is dit dus elke man vir himself en na die duiwel met die res.

Die staking was niks anders as 'n siniese uitbuiting van 'n internasionale geleentheid  nie. Vreedsame massa-optrede is toevallig ook iets wat ek dink Afrikaners volgende jaar met die Sokkerwêreldbeker moet doen om ons lot onder die wêreld se aandag te bring, maar ek is openlik onpatrioties teenoor die kunsmatige reënboognasie. Vergelyk daardie onpatriotiese houding met die ewe arm maar nietemin patriotiese Chinese s'n.

Mens sou so 'n gebrek aan patriotisme nog kon verstaan, komende van separatiste soos ek. Die stakers by die sokker is egter juis diegene teen wie daar nié in Mzansi gediskrimineer word nie, wat op die oog af wel welkome landsburgers is, anders as ek en my mede-Afrikaners. Die meeste stakers het voorts nie juis enige sterk nasionale identiteit (buiten moontlik aspirasies om Amerikaanse tipe gangsta rappas te wil word) of inderdaad 'n rede om te wil afstig nie. Hulle is dan in 1994 "bevry" – waarom afstig?

Verduidelik die volslae gebrek aan enige patriotisme egter Benni McCarthy se openlike weersin daarin om van sy Europese klub af weggeskeur te word? Is 'n gebrek aan patriotisme miskien juis die verklaring vir die Bafana-Bafana, asook baie ander Afrika-sokkerspanne se patetiese vertonings? Die leë stadia wanneer die Bafana speel kan dus eerder toegeskryf word aan 'n afwesigheid van nasionale samehorigheid, en nie net die Bafana se swak vertonings nie.

In daardie opsig stem ek saam met die linkses wat sê dat die ou koloniale grense van Afrika 'n kunsmatige onding is wat deur Europeërs op onwillige mense afgedwing is. Mense, kan ek byvoeg, wat nie noodwendig die Europese konsep van nasionale trots of samehorigheid kan of wil verstaan nie. Dis nie dat die Europese konsep van 'n nasie-staat beter of slegter is aan Afrika se model van 'n sterkman en stam-onderdane nie, dis bloot anders en waarskynlik ontoepaslik vir Afrika.

Gesien in die lig van die bostaande is dit eintlik relatief eenvoudig om te bepaal wie is Afrikaners, en vir Afrikaners om onsself te bevry. Om iets aan die res van die wanfunksionele kontinent se lot te doen, is egter 'n katnes.

Anton B.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator