Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Monday, May 4, 2009

Die VF+ en die toekoms

Dit is uiteraard maklik om vingers te wys na die VF+ n.a.v. sy vertonings by die stembus sedert 1994. Waarom verkies 'n groot meerderheid Afrikaners om eerder te stem vir 'n party wat deur nie-Afrikaners gelei word en wie se beleidsrigtings meestal 'n blote na-apery van die ANC s'n is, naamlik die DA? Ons kan gerieflikerwys probeer om die VF+ se leierskap te blameer, maar die beste stuurmanne staan hoeka mos aan wal.

Kom ons wees dus meer positief. As jý die VF+ moes adviseer, watter raad sou jy die VF+ wou gee? Hoe kan dít wat die VF+ aan die kieser bied, meer markgerig word?

As ek deur die VF+ aangestel sou word om strategiese leiding te gee, wat sou my raad wees?

Daar is drie groot probleme wat ek (en ek is kennelik 'n ondersteuner van die VF+ by die stembus) raaksien. Dié probleme is:

1) 'n Dubbelsinnigheid in die party se boodskap en ideologie;

2) nie genoeg differensiasie tussen die VF+ en ander partye nie;

3) 'n gebrekkige of onuitvoerbare visie.

Bostaande probleme is verwant aan mekaar, en dikwels is een of meer 'n gevolg van die ander.

My eerste beleidsverandering sou dus wees om die dodelike dubbelsinnighede in die VF+ se boodskap nekom te draai. Hier is 'n voorbeeld: die VF+ is glo ten gunste van transformasie, maar nie die manier waarop dit toegepas word nie. Daardie boodskap is dubbelsinnig en verwarrend, en ook toevallig presies wat Cope of die DA sê. Dit onderskei nie die VF+ van die ander nie.

Die meeste blankes, myself inkluis, haat regstellende aksie egter met 'n passie, en sien dit aan vir die rassisme wat dit is.

Beleidsvoorstel nommer een, dus: hou op om louwarm te wees. Regstellende aksie en transformasie is anti-blanke rassisme, en moet onverbiddelik beveg word. Sê dit hardop en sê dit herhaaldelik. Suiwer en vereenvoudig die party se ideologiese boodskap, dus.

Beleidsvoorstel nommer twee, wat ook te make het met dubbelsinnigheid: Die VF+ se webwerf praat steeds oor 'n volkstaat in die Noord-Kaap, maar geen partyleier sal waag deesdae om dit nog hardop in die openbaar sê nie. Is Orania en die volkstaat daar steeds amptelike VF+-beleid, vra die verwarde kieser soos ek myself af?

Raak dus ontslae van Orania, die albatros om die VF+ se nek. Blankes gaan eenvoudig nie uit hetsy Kaapstad, hetsy Pretoria-Oos, na Orania verhuis nie. Orania was of is kennelik 'n interessante eksperiment, maar dit het ongelukkig nie gewerk nie. Al wat dit tans doen, is om vir die VF+ 'n verleentheid te skep.

Beleidsvoorstel nommer drie, wat gekoppel is aan Orania: besin oor wat die woord "vryheid" in die naam VF+ in praktiese terme beteken, as dit dan nie 'n volkstaat in die Noord-Kaap is nie. Indien "vryheid" nie vryheid vir Afrikaners van uitheemse volke se dwingelandy beteken nie, hoe differensieer die VF+ homself dan van die DA, as Cope, die VF+ en DA almal sê hulle is lojale Suid-Afrikaanse partye, verbind tot die begrip van multikulturalisme en 'n reënboognasie?

Dit is hier waar die party se visie ook ter sprake kom.

Vir my beteken vryheid 'n paar dinge. Een is dat ek as Afrikaner vry wil wees van 'n Zimbabwe-lot wat Suid-Afrika in die toekoms gaan tref, en alreeds in proses is. Dit beteken ook dat ek nie onder die heerskappy of dwingelandy van vreemde volke wil verkeer nie, insluitende onder Engelse dwingelandy soos Helen Zille s'n. Ek wil geregeer en geadministreer word deur Afrikanerpolitici en -staatsamptenare en my belasting aan 'n Afrikanerregering betaal, belasting wat aan mý belange bestee moet word.

Dus: die "vryheid" in VF+ beteken vir my 'n visie van regering deur Afrikaners, oor Afrikaners, vir Afrikaners.

Die gevolg hiervan sal wees dat Afrikaners nie in die onafwendbare Afrikalot wat die meeste lande ná Oehoeroe tref, en ook Suid-Afrika se voorland is, hoef te deel nie.

Hoe voltrek mens daardie visie? Indien dan nie 'n Orania-volkstaat nie, wat dan? Ek sou sê die visie behoort gebou te word op aanvanklike selfbeskikking binne die grense van Suid-Afrika, met 'n model geskoei op die Baske of Palestynse Owerheid s'n.

Dit behels met ander woorde 'n owerheid vir Afrikaners, maar sonder aanvanklike territoriale afstigting. Dit sou beteken dat Afrikaners ons eie owerheid verkry, die AO, wat magte het om byvoorbeeld 'n eie polisiemag daar te stel, om staatsdiensfunksies vir Afrikaners te vervul en waaraan Afrikaners belasting sal betaal.

Die uiteinde van bostaande proses sal wel territoriale selfbeskikking wees, in een of meer geografiese gebiede, wat byvoorbeeld 'n deel van die Wes- of Suid-Kaap of Pretoria kan insluit.

Bostaande sou 'n enorme differensiator tussen die VF+ en die DA wees. Die DA sou dan dié blanke en bruin party wees wat aspirasies het om die hele Suid-Afrikaanse reënboognasie te regeer, terwyl die VF+ hom vir ware Afrikanervryheid sal beywer, en op Afrikaners sou toespits. Dit maak die VF+ onbeskaamd pro-Afrikaner, en pro-vryheid, in die letterlike sin van die woord, iets wat geen ander party is nie.

Dit is ook 'n duidelike en uitvoerbare visie; die groot gros Afrikaners hoef nie te verhuis nie, maar kan wel oor hulself regeer. Weer eens, daar is internasionale presedente. Die Palestyne op die Wesoewer woon in 'n gebied wat deur Israel beset word, maar het nietemin hulle eie owerheid. Dit kort weliswaar visie en die politieke wil, maar is dit nie wat 'n politieke party behoort te verskaf nie?

Ter opsomming: alhoewel ek nie persoonlik dink die VF+ hoef in sak en as te sit nie, is daar duidelik 'n probleem in dié sin dat die party nie daarin slaag om die steun wat hy verdien onder Afrikaners te verkry nie.

Die VF+ kan óf op sy huidige koers bly voortgaan en in die volgende verkiesing weer 150 000 of minder stemme kry, óf hy kan himself omvorm in 'n party wat 'n dinamiese en helder visie het en hom onderskei van al die ander ANC-Lites soos Cope of die DA. Die VF+ kan 'n party word wat werklik aanklank by Afrikaners vind.

Dit sal weliswaar 'n geweldige paradigmaskuif (om nou 'n cliché te gebruik) en politieke moed van die party vereis, maar die alternatief is om op die huidige frustrerende wyse voort te ploeter na 'n onsekere toekoms, met Afrikaners wat ons lot toenemend by 'n Engels-gedomineerde party gaan ingooi.

1 comment:

  1. Ek is ook 'n Boer in vlees en bloed en lid van VF+.
    Ja, die toekoms van die party is erg op die spel, synde die aanstelling van Dr Mulder as adjunk minister. Dit was 'n logiese stap vir die uwe, vir persoonlike gewin, maar ook 'n groot sprong om die toekoms van die Afrikaner/Boer te verseker. Ons moet Dr Mulder ten volle ondersteun om nie sy lojaliteit teenoor die VF+ kiesers te verloor nie. Die gevaar bestaan dat indien Zuma dit gedoen het in die hoop dat Dr Mulder dan minder tyd sou he om op die visie van die VF+ te fokus, moet ons die regte skuiwe maak en seker maak dat ander gekwalifiseerde manne oorneem en die wig dieper inslaan wat nou deur die regering oopgelaat is. Ek stem saam dat die Volkstaat ideaal 'n paar negatiewe reaksies uitlok, want baie ondersteuners daarvan wil dit in hul eie woongebiede he. Dit sal egter meer onmoontlik wees as om dan eerder 'n bepaalde gebied af te baken en te eien. Ons sal ook nie onsself parralel met die huidige regering kan regeer nie, want 'n eie polisiemag en noodwendig ook 'n weermag sal beslis in konflik kom met die huidige, wat sal lei tot burgeroorlog. Ek stem saam met die beoogde gebied wat deur die VF+ en ander geoormerk is, nl Orania wes tot aan die kus. Ons is wel in staat om die gebied te besit, te ontwikkel en daarin onsself te regeer. Dan alleenlik sal "n eie polisiemag en weermag in vrede kan opereer en ons belange beskerm.
    As dit nog nooit belangrik was vir die Afrikaner om saam te staan nie, is dit juis nou die tyd.
    Ek is nie bereid om tot aan my oudag hieroor te kibbel nie en wil werklikhede ervaar en sien dat my nageslag versorg en verseker is van 'n toekoms. Laat ons almal nou daadwerklik werk maak om die VF+ te laat geld. Ons hoef nie tot geweld oor te gaan nie, daarvoor is ons Volk te intelligent en kan ons ons geld beslis beter bestee tot ons voordeel.

    Groete, Pieter van Wyk

    ReplyDelete

free counters Afrigator