Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Saturday, May 9, 2009

'n Fuero vir Afrikaners

Die Spaanse term fuero is afgelei uit die Latynse woord "forum", wat beteken mark of vergaderplek. Die woord het sy oorsprong in die middeleeue. Sekere dele van Spanje, byvoorbeeld, was wel deel van die Spaanse koninkryk, maar was nie ten volle geïntegreerd met die Spaanse koninkryk nie, en het 'n mate van outonomiteit geniet. 

'n Fuero is tydens die middeleeue deur die landheer of die koning aan 'n groep of gebied gegee, met dien verstande dat alhoewel die groep of stam hul eie wette kon maak en oor hulself kon regeer, hulle tog die gesag van hetsy die koning, hetsy die landheer sou erken.

'n Goeie voorbeeld van 'n fuero in die geskiedenis was die Katolieke Kerk in die middeleeue. Alhoewel amptenare van die kerk die gesag van die plaaslike koning erken het, het hulle nie belasting aan die koning betaal nie, maar eerder aan Rome. Hulle was insgelyks nie onderworpe aan die gewone regspleging van die koninkryk nie. Priesters sou deur 'n kerklike hof verhoor word, en nie deur 'n gewone siviele hof nie.

Die mees bekende hedendaagse fuero is die Baske se streek in noordelike Spanje. Die Baske sien hulle fuero as iets soortgelyk aan 'n grondwet, wat die Spaanse grondwet deels vervang. Die Baske het hul eie polisiemag. Hulle sien om na hulle eie openbare finansies, met min of geen inmenging van die Spaanse regering nie.

Ek stel 'n soortgelyke bedeling vir Afrikaners in die vooruitsig. (Om die onafwendbare vraag van meet af aan te beantwoord: Afrikaners is Afrikaanssprekende afstammelinge van Europese setlaars, wat nie tans kwalifiseer as agtergeblewenes in terme van die Mzansi-staat se bemagtigings- en arbeidspraktyke nie.) Mzansi is die Xhosaterm vir "Suid-Afrika." 

Alhoewel daar wel geografiese gebiede is waarin daar groot konsentrasies Afrikaners voorkom – Pretoria en omstreke is een - is my voorstel dat dit vir alle Afrikaners, ongeag hulle woonplek, ook emigrante, moet geld.

Die rol van blanke Engelse is 'n onderwerp vir 'n hele ander debat, maar my mening is dat hulle 'n eenmalige geleentheid gegun behoort te word om hulle by Afrikaners te skaar, maar met dien verstande dat hulle bereid sal wees om onderworpe te wees aan owerheidsgesag, wat in slegs Afrikaans bedryf sal word. Kennelik is daar diegene in die Engelse gemeenskap, inwoners van Houghton moontlik, wat nie sal wil deelneem nie, maar dit is hul eie keuse.

Soortgelyk aan die Baskiese model, moet Afrikaners die grootste deel van ons belasting aan ons eie owerheid betaal, en nie aan die Mzansi-regering nie. Daar is kennelik gedeelde dienste en belange, wat Afrikaners en die Mzansi-regering sal deel, waarvoor Afrikaners hul deel sal moet bydra, byvoorbeeld die oprigting van kragsentrales. Die befondsing hiervoor behoort myns insiens te geskied dmv pro-rata oorbetalings van belastinggeld deur die Afrikanerowerheid, in verhouding met die persentasie van Afrikaners in die groter Mzansi-bevolking.

Daar is egter ander staatsfunksies, onder andere onderwys, handel en nywerheid, veiligheidsdienste, mediese sorg, sosiale dienste, regspleging en andere wat volksspesifiek behoort te wees, en wat volledig befonds moet word deur Afrikaners, en deur Afrikaners bedryf moet word, sonder enige inmenging van die Mzansi-regering. Afrikaners sal ook die bevoegdheid moet opeis om ons eie geldeenheid uit te reik, of moontlik om iets soos die Euro aan te neem as ons geldeenheid.

Ook is dit belangrik om ooreen te kom oor afgebakende Afrikanergebiede, weer eens Pretoria-Oos onder andere, waaroor die Afrikanerowerheid seggenskap en jurisdiksie sal hê. Die Afrikanerowerheid se polisiemag moet byvoorbeeld die reg hê om inwoners van Mzansi wat hulle aan misdaad skuldig maak binne afgebakende gebiede, te arresteer.

Die Afrikaner-owerheid moet deur Afrikaners verkies word, in terme van 'n toepaslike kiesstelsel, wat na my mening partypolitieke mededinging moet insluit. Sou die VF+ 'n verkiesing onder slegs Afrikaners kon wen, wonder ek?

Die voor-die-hand-liggende vraag word nou: watter insentief is daar vir Mzansi ANC-regering om toe te stem tot só 'n bedeling vir Afrikaners? Daar is verskeie faktore wat hierin 'n rol kan speel.

Een voordeel is dat die voortslepende omstredenheid oor regstellende aksie en swart bemagtiging bykans onmiddelik gestuit sal word. Dit sal nie meer nodig wees om regstellende aksie-praktyke in Mzansi se staatsdiens of privaatmaatskappye toe te pas nie, siende dat Afrikaners ons eie staatsdiens sal hê, en dat Afrikanermaatskappy by die Afrikanerowerheid se Registrateur van Maatskappye geregistreer sal wees. Dit staan die Mzansi-regering dus vry om 100% van alle poste in sy staatsdiens en maatskappye aan nie-Afrikaners te oorhandig.

Nog een is dat dit duidelik is aan almal behalwe die mees hallusinerende Afro-optimis dat Mzansi alreeds in 'n doodsspiraal is. Dienslewering en infrastruktuur verkrummel teen 'n versnellende tempo.

Dit alles dui daarop dat die ANC-staat se kapasiteit om die land te regeer, vinnig besig is om in duie te stort. 'n Kenmerk van baie Afrikastate is dat regeringsdienste geprivatiseer word, iets wat toenemend in Suid-Afrika gebeur. Skole, veiligheid en mediese sorg word toenemend privaat befonds, omdat die regering dit eenvoudig nie meer kan bied nie.

Indien Afrikaners dus nie langs onderhandele weë oor hulself gaan regeer nie, maw iets wat lei tot 'n de-jure owerheid nie, sal daar in die toekoms in ieder geval 'n de-facto owerheid ontstaan, waarvolgens Afrikaners in hul privaathoedanigheid sal moet ingryp om die staat se funksies oor te neem.

Net soos die semi-onafhanklike stamme of gebiede in ruil vir hulle fuero die landheer of koning se gesag erken het, stel ek dus in die vooruitsig dat Afrikaners die Mzansi-regering van die dag, tans die ANC, se gesag erken om oor die landstreek Suid-Afrika, oftewel Mzansi, te regeer.

Dié ooreenkoms hoort myns insiens ook verder te gaan. 'n Reuseprobleem waarmee die ANC-bewind tans sit, is dat die onregverdige voordeel wat regstellende aksie en SEB bied, baie gewild is onder sy swart kiesers. Hy word dus gedwing om onbevoegde indiwidue aan te stel in sleutelposisies, veral in die staatsdiens, wat bydra tot die versnellende verval van Mzansi.

Na my mening behoort die Mzansi-regering dus van sy staatsfunksies en –verpligtinge na die Afrikanerowerheid se staatsdiens uit te kontrakteer, of in Engels te "outsource." Laat die bestuur van veral infrastruktuur oor aan Afrikanerkundigheid, sodat die Afrikanerowerheid ten bate van beide Afrikaners en die inwoners van Mzansi kan omsien na onder andere die elektrisiteits-, pad- en waterinfrastruktuur.

Sodoende behou die Mzansi-regering sy gewilde beleidsrigtings – hy kan 100% van die Mzansi-staatsdiens verswart – maar nietemin word die dienslewering aan sy eie onderdane aansienlik verbeter, en hoef Mzansi nie nog 'n gefaalde Afrikaland te word nie. Weer eens: beide Afrikaners en die res van die inwoners van Mzansi word hierdeur bevoordeel.

Ter opsomming: 'n fuero, oftewel 'n eie owerheid, vir Afrikaners sal heelwat probleme vir Afrikaners oplos – misdaad, regstellende aksie, belasting wat nie op ons belange spandeer moet word nie en andere. Dis insgelyks 'n vorm van selfbeskikking, alhoewel dit (nog) nie volkome territoriale onafhanklikheid verteenwoordig nie.

Dit bied ook voordele aan die Mzansi-regering, siende dat Afrikaners met die mag om oor onsself te beskik, waardevolle en produktiewe vennote in Mzansi se ontwikkeling en bestuur kan word.

Waarvoor wag ons?


No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator