Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Monday, July 13, 2009

Viva RICA!

Almal van ons vang dom dinge aan - ek selfs meer as die volgende ou. ‘n Paar jaar gelede is ek lelik met ‘n slenter gevang. Ek het ‘n skootrekenaar in die Junk Mail geadverteer. ‘n Persoon het my toe gekontak en gereel dat ons mekaar by ‘n winkelsentrum sou ontmoet om die rekenaar te oorhandig. Hy het, voor ons mekaar ontmoet het, ‘n bewys van deposito in my rekening aan my gestuur en soos ‘n idioot het ek gedog dis legitiem. Ok maar lekker stoepit.

Nodeloos om te sê was dit ‘n gesteelde tjek wat in my rekening betaal is en is ek my rekenaar kwyt. Ek het wel sy kar se registrasienommer vir die onbelangstellende polisieman gegee, maar dit was skrale troos. Die getransformeerde polisiemag is groter skelms as die kriminele sonder uniforms deesdae en niks het daarvan gekom nie. Ek twyfel of die polisieman aan wie ek dit gegee het, self kon lees of skryf.

Die dief het ‘n pay-as-you-go selfoonnommer gebruik om my te bel om die afspraak te maak. Dit ly geen twyfel nie dat sulke voorafbetaalde selfoonnommers ‘n geweldige groot rol speel in misdaad soos dié wat my getref het. Ek is daarom ‘n groot voorstander van die RICA wetgewing, dié wat mense gaan verplig om ‘n woonadres en ID-nommer te verskaf wanneer hulle ‘n voorafbetaalde selfoonkaart wil koop.

Heel voorspelbaar is die selfoonmaatskappye nie juis entoesiasties hieroor nie. Dit sal nie net moeitevol vir hulle wees nie, maar ook verhoed dat hulle voorafbetaalde lugtyd aan die kriminele kan verkoop. Daar is byvoorbeeld ‘n hele artikel op Moneyweb wat hoog en laag kla oor hoe onafdwingbaar die RICA-wetgewing glo sou wees.

Van die besware in bostaande artikel: baie mense het glo nie vaste woonadresse nie. Wie hou rekord van die ID-nommers? Ensovoorts, ensovoorts - lang en treurige stories.

My hart bloei vir die “arme” selfoonmaatskappye, hulle met die miljarde rande se winste wat hulle elke jaar maak. Hou op om die rugby te borg en belê in ordentlike stelsels om hierdie soort misbruike te monitor. Betaal ‘n paar miljoen en kry vir julle ‘n klomp skandeerders, faksmasjiene en ‘n “Document Management System.” Daar is baie van hulle daar buite beskikbaar. Kry ‘n paar werkloses van die straat af sodat hulle help om hierdie dokumentasie te verifieer.

My hart bloei ook vir die onwettige immigrante wat nie ‘n ID-boek of ‘n vaste woonadres het nie. Gaan terug na jou eie land en kry vir jou ‘n selfoon daar. Ek plak nie in Amerika nie en dring ook nie aan op ‘n Sprint of Verizon-rekening daar nie. Wat maak julle so spesiaal?

Vir diegene wat in ‘n plakkerskamp bly: gaan soek vir jou ‘n kommisaris van ede, en stuur ‘n gesertifiseerde brief van iemand wat jou ken soos jou pastoor asook ‘n afskrif van jou ID-boekie, daardie een waarmee jy vir jou child grants aansoek doen, na Vodacom, Cell C of MTN.

(Ek het wel ‘n klein vragie, onnosel soos ek is: as jy in 'n plakkershut woon, waar prop jy dan jou selfoon se laaier in? O, by die werk! Ek sien – kry dus jou werkgewer om te sertifiseer dat jy wel daar werk en dat hy jou ken. As jy nie 'n werk of 'n huis het nie, hoe op dees aarde het jy dan 'n selfoon in die hande gekry, en hoe gaan jy jou lugtyd kan koop?)

Alvorens Cell C, MTN of Vodacom nie die dokumentasie hierbo in hul besit het nie, werk jou voorafbetaalde kaart nie. Dis niks buitengewoon nie – ek moes destyds self ‘n paar dae wag dat hulle my selfoonkontrak goedkeur.

Dit help nie ons sit en kla oor misdaad maar diegene wat die mag het om iets daaraan te doen – die selfoonmaatskappye onder andere – weier om hulle kant te bring vir redes van eie gewin nie.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator