Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Wednesday, July 15, 2009

Hoe nou, Sadou?

Die Natalse tak van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysers-Unie, Sadou, kla oor hoe eksamenantwoordstelle nagesien word. (Is dit nie terloops interessant hoe menige lande en organisasies met "Demokraties" in hulle name juis niks van die aard is nie? Sadou is 'n gawe versameling Staliniste, en so ook was die Duitse Demokratiese Republiek allermins demokraties.)

Volgens Sadou word nie-moedertaalsprekers van Engels glo benadeel deur die wyse waarop antwoordstelle nagesien word.

Sadou se lede is uiteraard die einste onderwysers wat skoolhou vir juis diegene– swart leerlinge en hulle ouers – wat ten alle koste aandring daarop om in Engels onderrig te word. Die Hoërskool Ermelo verkeer byvoorbeeld nie onder druk om klasse in plaaslike tale – Zoeloe of Tswana – aan te bied nie. Nee, dit móét Engels wees.

Die resultaat is voorspelbaar. Die Zoeloesprekende skoolkind sit op die skoolbank en word uit 'n Engelse handboek onderrig in wiskunde of biologie. Die onderrig word verskaf deur 'n onderwyser wat Engels probeer praat, maar eintlik self 'n Zoeloe is en wie se taalvaardigheid in Engels swak is. Nóg die skoolkind, nóg die onderwyser verstaan hetsy Engels op 'n aanvaarbare vlak, hetsy begryp hulle alles wat in die handboeke in Engels gekryf is. Die kinders gaan skryf dan hul eksamens, ook in Engels, en druip soos vlieë.

Sadou se lede is nie net die kluts met Engels kwyt nie, maar gaan soek ook die blaam vir swak prestasies op die verkeerde plek. Die leerlinge se swak prestasie word summier toegeskryf aan die nasieners, wat glo eers die Engels wat die leerling probeer besig beoordeel, en dan eers na die vakkundige inhoud van die antwoordstel kyk.

Die driedubbele mededingende nadeel –'n onderwyser wat nie eintlik Engels kan praat nie, 'n leerling wat nie die Engels in die handboek ordentlik kan lees nie en dan in Engels eksamen moet skryf, word egter totaal en al deur Sadou geïgnoreer.

'n Voor-die-hand-liggende oplossing vir swak prestasie sou logieserwys insluit om a) handboeke in die moedertaal van die leerlinge op te stel, b) vir die leerlinge om onderrig in hulle moedertaal te ontvang, en c) om die eksamen ook in hulle moedertaal te skryf. Daar is sowat vier keer meer Zoeloes as Afrikaners en dus regverdig hul getalle al die bostaande stappe.

Luister is egter min. Dit móét teen wil en dank Engels wees, al lei die gebruik van Engels regstreeks daartoe dat 'n groot aantal leerlinge druip. In die Marxistiese onderwysvakbondlid, asook die leerlinge en hul ouers, se koppe is dit egter beter om in te Engels druip as om in Zoeloe deur te kom.


No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator