Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Friday, April 3, 2009

Zille word deur Zuma ore aangesit

Een ding is vir my baie duidelik: Zuma is 'n meesterlike politikus, veral vergeleke met die Engelse, links-liberale Helen Zille en haar toenemend-linkse, multi-kulti party, die DA.

Zille, met haar Black Sash-verlede, universiteitsgrade, Botox-inspuitings en kosmetiese sjirurgie, is steeds 'n baba in polities-taktiese terme, gemeet aan Zuma met sy Standerd-2 opvoeding en sy ma wat 'n huishulp was.

Helen Zille het na my mening pens en pootjies in Zuma se strik getrap met hierdie uitbarsting, wat haar bloot kleingeestig, vals en afgunstig maak voorkom, in kontras met Zuma se uitreiking na Afrikaners. Dit is kennelik presies die reaksie waarna Zuma op soek was, en spreek bloot van die tipiese dog verkeerdelike begrip van die belang van etniese identiteit in liberales soos Zille se denkraamwerk.

Waar 'n rokie trek, moet daar egter 'n vuurtjie brand; Zille se kleinlikheid spreek myns insiens van 'n skuldige gewete. Die DA is kennelik besig om te ontaard in 'n links-liberale Kaapse party. Hulle groot teikenmarkte is Naspers se sogenaamde Afrikaanses; die inwoners van die Kaapse Vlakte en snobistiese, Engelse blankes. Dít kon ons agterkom uit die onlangse etniese reiniging van Afrikaners uit die DA se leierskorps in Gauteng, die DA se steun vir die verandering van Pretoria se naam na Aapstad asook die DA se steun vir regstellende aksie en transformasie.

Zuma het Zille en die DA se strategiese swakheid meesterlik raakgesien. Hy het Donderdag uiters effektief 'n wig tussen die toenemend-verEngelsde DA en die Afrikaners gedryf. Omdat hy polities meer intelligent as hetsy Afrikaners, hetsy Zille, hetsy die DA is, het hy instinktief geweet hoe om die DA baie effektief by te kom - hy moes bloot aan Afrikaners die voor-die-hand-liggende uitwys; iets wat ons aan onsself probeer ontken het, naamlik dat die DA 'n volksvreemde party is, wat Afrikaners weliswaar misbruik as gerieflike stemvee, maar wat ons andersyds by die beter klas van partytjies in Houghton en Bishopscourt, tussen die DA se kernondersteuners, aktief minag.

Dink wat jy wil van Zuma en die klagtes teen hom: Zille is Donderdag sleg ore aangesit deur 'n meer uitgeslape en beter politikus.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator