Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Tuesday, April 7, 2009

Nog 'n pilaar van die demokrasie tuimel

Die laat vaar van die klagtes teen Zuma was die voltrekking van baie mense se voorspellings oor die toekoms van Suid-Afrika, myne inkluis. Ons staan tans op 'n punt waar dit duidelik is dat die regstelsel ernstig gekompromiteer is. Gelykheid voor die reg is tans 'n grap. As jy lid van die binnekring is, geld daar verskillende reëls vir jou as vir die gewone man op straat. Verwag dat Jackie Selebi en John Hlope gaan loskom, presies nes die rassisme-klagtes pas teen Cheeky Watson laat vaar is.

 

Suid-Afrika is kortom nie meer 'n regstaat nie. Die "rule of law" bestaan amptelik nie meer nie, sedert Maandag, 6 April 2009. (Is daar een of ander betekenisvolle toeval dat dit juis op Van Riebeeckdag moes gebeur, Dr Jung?) Hoe meer die regbank getransformeer (lees: "verswart") gaan word, hoe minder onafhanklik en objektief gaan dit word, en hoe meer gaan dit 'n orgaan word wat die ANC se ideologie implementeer.

 

Alhoewel dit betreurenswaardig is, is dit allermins onverwags. Dit is al lankal 'n feit dat die wetgewende gesag, oa die parlement, ook hopeloos gekompromiteer is, en bloot 'n orgaan is wat die wil van die regerende regime beaam. Van realistiese opposisie by die stembus is daar nie sprake nie. Met die val van die onafhanklikheid van die regbank het nóg 'n pilaar van die demokrasie getuimel. Wat bly dus oor?

 

Ek sou reken die enigste oorblywende en funksionerende pilaar van die demokrasie is 'n relatief-vrye pers, wat tot nog toe redelik kwistig is met hulle veroordeling van die regime. Daar is egter al geluide dat die ANC nie gediend is hiermee nie. Hier is my voorspelling: vóór 2015 sal daar daadwerklike pogings wees om ook die vrye pers in die bek te ruk, insluitende blogs soos hierdie een. Dit gebeur lank reeds in plekke soos China, Myanmar en Zimbabwe.

 

Hoe raak dit jou en my, en veral die Afrikaners as volk?

 

Eerstens sou ek sê ons moet onsself voorberei op die stelselmatige Zanufikasie van die samelewing. Ons sal onsself toenemend nie meer langs die gewone weë wat in funksionerende demokrasieë werk, kan laat geld nie. Die onlangse oorwinning van die Hoërskool Ermelo in die appèlhof is dus 'n tydelike uitskieter, wat weldra "getransformeer" sal word tot 'n beslissing wat meer aanneemlik vir die regime is - bes moontlik in die Grondwetlike Hof.

 

Ons is sedert reeds gedwing om buite die kiesstelsel en buite die parlement op te tree. In die toekoms sal ons ook buite die regstelsel moet begin optree, skrikwekkend soos dit mag klink. Iets soos hierdie beplande optrede deur grensboere teen Lesotho se veediewe sal binnekort tydmors word, indien dit nie reeds is ne. Dit sal die boere eerder dien om 'n paar veediewe self vas te trek en hulle op video met 'n sweep af te ransel, en die video aan die media te "lek", as om hulle op die howe te beroep.

 

Dis weliswaar 'n enorme cliché, maar as ons as Afrikaners nie nou al buite die kassie begin dink nie, as ons nie nou al begin beplan hoe om in Zim die Tweede te oorleef nie, kom daar groot swarigheid vir ons.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator