Political Blogs - Blog Catalog Blog Directory

Thursday, April 9, 2009

Piskrieke en die geldkrisis

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer kom ek onder die indruk dat die huidige geldkrisis eintlik 'n noodsaaklike korreksie is. Die pyn wat ons verduur, is nodig om die huidige malligheid met oordrewe pryse tot sy sinne te bring.

'n Paar weke gelede dra Rapport se Sakeblad byvoorbeeld 'n berig oor 'n nuwe model Toyota Corolla. Dié voertuig het glo heel nuwe tegnologie in sy 1300cc enjin, wat hom soortgelyke werkverrigting as sy 1400 voorganger gee. Die Corolla het allerhande fênsie tegnologie en rekenaars aan boord.

Als goed en wel, maar daar is 'n problem, en die berig hierbo merk dit ook op. Van die 1.3 modelle in die Corolla reeks kos nie minder nie as 'n allemintige R195,000. Honderd vyf-en-negentig duisend rand, vir 'n piskriek met 'n 1300cc kragbronnetjie!

Kom ons dink in ander terme daaroor: die huidige Satawu-staking eis 'n minimumloon van sowat R6000. Hoe lank moet 'n vragmotorbestuurder ná belasting werk om 'n Toyota soos hierdie te kan koop? Dis R195,000 / R5,000 per maand, oftewel 39 maande, meer as 3 jaar, en dit sou beteken dat hy geen kos, klere, water of enige iets anders kon koop vir daardie tydperk nie. Dis uiteraard onmoontlik.

R195,000 is kortom totaal en al uit verhouding met die intrinsieke waarde van 'n 1300cc piskriek.

Nie net is Toyota-piskrieke se prys glad nie rasioneel nie, maar ook baie ander items s'n. Doodgewone woonhuise kos deesdae maklik R1.5 miljoen. Hoe lank sal die vragmotorbestuurder hierbo genoem moes werk om so 'n woning te kan koop? Antwoord: sowat 25 jaar, sonder om te eet of enige ander uitgawes aan te gaan. Ook gans en al onrealisties.

Aan die ander kant huil en kerm die einste vervaardigers van die 1300cc piskriek, Toyota, dat hulle mense moet afdank en dat hulle verkope met 30% geval het, en verwag van die belastingbetaler om hulle basse te red.

Ek is jammer vir die mense wat hulle werk verloor het, maar die regstreekse oorsaak van die probleem is die gierigheid van die vervaardigers (en van bankiers, supermarkte, kleremakers, noem maar op.) Waarom moet ek en ander belastingbetalers opdok? Sodat Toyota se base vir hulself nog 'n huis of wat in Monte Carlo kan gaan koop?

Ek praat nie eens hier van die obsene gierigheid van Wall Straat en ander bankiers nie, wat Toyota se R200k piskrieke na winskopies laat lyk.

Pynlik soos dit vir ons almal is, gaan die huidige krisis hopelik sorg dat goedere en dienste se waardes na meer realistiese en volhoubare vlakke sal daal.

No comments:

Post a Comment

free counters Afrigator